STAATSREDE BEVESTIG REGERING SE BELEIDSEKERHEID

Star InactiveStar InactiveStar InactiveStar InactiveStar Inactive
 

"Die staatsrede van president Cyril Rampahosa wat hy gisteraand in die parlement gelewer het was presies niks anders as die voortsetting van die ANC-regering se vernietigende sosialistiese ideologie nie met dieselfde totaal onhaalbare vooruitsigte en beloftes as voorheen wat reeds 'n totale bankrot regering en 'n mislukte staat tot gevolg het," sê Fanie Brink, 'n onafhanklike landbou-ekonoom. 

Hy sê die ANC-regering se vorige ses suiwer sosialistiese ekonomiese planne sedert 1994 is in werklikheid nog altyd suksesvol geïmplementeer en was die hoofrede waarom ons vandag 'n totaal vernietigende ekonomie het wat nooit volhoubare ekonomiese groei kon geskep het nie. Die kans dat Ramaphosa se nuwe "Economic Reconstruction and Recovery Plan" groei kan skep is nul! Al die planne was op die sosialistiese "radical economic transformation" ideologie baseer wat reeds lank voor 1994 voortgespruit het uit die "Vryheidsmanifes" van die ANC. 

Hierdie ideologie het in werklikheid reeds die ekonomie "radikaal getransformeer" sonder dat die ANC en sy sosiale vennote met hulle ekonomiese ongeletterdheid en onbevoegdheid dit nooit agtergekom het hoe vernietigend elke opeenvolgende plan was nie. Die ANC-regering is nie in staat om dit ooit te verstaan nie en daarom sal die nuwe plan ook nie die ekonomiese vernietiging wat lank voor die uitbreek van die pandemie al plaasgevind het kan herstel nie.

Die ANC-regering sal gevolglik aanhou om permanent na 'n volgende "Economic Reconstruction and Recovery Plan" met dieselfde dramatiese vernietigende gevolge te soek!

Die sogenaamde "ligpunte" oor kragopwekking, digitale migrasie en groter plaaslike vervaardiging waarvan ons al vir jare lank hoor sal nie implementeer word nie, terwyl die investering van miljarde rande in Ramaphosa se infrastruktuurprojek geen ekonomiese groei sal skep as dit nie positiewe opbrengste, soos al die ander staartondernemings, op hierdie kapitaalbelegging kan realiseer nie. Die swart ekonomiese bemagtiging en groter korrupsie sal egter voortduur soos in die verlede. 

 Die land het ook al daaraan gewoond geraak dat feitlik al die spesiale beleidsaankondigings wat tydens 'n verkiesingsjaar dringend implementeer moet word, soos die vestiging van duisende bestaansboere wat in 'n armoedestrik gedompel sal word en permanent van die regering finansieel afhanklik sal raak, asook die landbou-ekonomiese ramp wat grondonteiening sonder vergoeding tot gevolg sal hê, meestal totaal onsuksesvol was wat die regering se uitgawes en staatskuld net verder verhoog het. 

Die klaarblyklike doelwitte van die sogenaamde "meesterplanne" om, soos in die geval van die pluimveebedryf waarin "R800 miljoen belê is en nou reeds 'n miljoen meer hoenders elke week produseer" waarvoor daar nie 'n plaaslike mark bestaan nie is suiwer daarop gemik om landbouprodusente- en voedselpryse te verlaag wat nie volhoubaar wees nie en dit kan veroorsaak dat baie produsente uit die bedryf gedwing word. Die plaaslike kopers en handelaars sal dan met die winste wegstap wat in die buitelandse mark gerealiseer kan word weens die laer binnelandse hoenderpryse en die swak wisselkoers, terwyl die plaaslike verwerkers steeds hulle winsmarges in hulle verbruikerspryse daarby sal aanpas. Net soos in die geval van die lae mieliepryse wat hulle weens surplusproduksie op die SA Futures Exchange (SAFEX), wat die landbou-afdeling van die Johannesburgse Aandelemark is, kan aankoop en teen groot winste uitvoer.

 

Die meesterplanne sal dieselfde gevolge vir al die ander landboubedrywe inhou, wat tesame met die ander beleidsverklarings wat uit die staatsrede voortgespruit het, ook weer die "beleidsekerheid" van die ANC-regering se verdere vernietiging van die ekonomie bevestig het," sê Brink.

Fanie Brink, Onafhanklike Landbou-ekonoom


Newsletter Subscribe