Rosch

"OPBOU VAN DIE LAND" DEUR GESPREKKE ERNSTIG BETWYFEL

“Die gesprekke oor die 'begin van die opbou van die land wat besig is om uitmekaar te val en die landsprioriteite waaraan daar dringend aandag gegee moet word' en waaroor daar konsensus bereik is ‘deur kragte saam te snoer om op elke lewensterrein van die grond af saam te werk vir ’n beter toekoms' sal soos al die vorige gesprekke hieroor geen oplossings of enige resultate oplewer nie, sê Fanie Brink, ‘n onafhanklike landbou-ekonoom.

Hy het verwys na die vergadering tussen die Afrikanerbelangegroepe en die Thabo Mbeki-stigting in die Wes-Kaap wat die afgelope naweek in Kaapstad plaasgevind het. ‘n “Inklusiewe ekonomie” is suiwer net ‘n slagspreuk van ekonomiese ongeletterde en onbevoegde politici, asook politieke kommentators en woordvoerders, wat nie verstaan wat dit beteken en nog minder hoe ekonomies onhaalbaar dit is nie.

Slegs aktiewe deelnemers aan die ekonomie wat oor die basiese produksiefaktore soos grond en grondstowwe, kapitaal, arbeid, bestuursvaardighede en entrepreneurskap beskik wat vir ekonomiese groei en ontwikkeling aangewend kan word kan deel van die ekonomie wees. Ekonomiese groei word nie geskep deur politieke rassisme, diskriminasie en die vernietigende sosialistiese regstelling van die maatskaplike, sosiale en ekonomiese probleme wat deur die ekonomiese onkundigheid van politici en hulle vernietigende politieke stelsels veroorsaak is nie.

Geen vordering sal met sulke gesprekke gemaak word nie omdat dit nie met die uiters noodsaaklike ekonomiese geletterdheid en bevoegdheid gepaard gaan nie en omdat die geskiedenis dit oor en oor bewys het dat politieke stelsels in die verlede die hoofoorsaak was en vandag nog steeds is waarom die ekonomieë van baie lande in die verlede vernietig is.

Die identifisering van “suksesvolle landbouprojekte wat as modelle vir sukses kan dien” sal onnodige wees omdat daar meer as genoeg suksesvolle kommersiële boerderybesighede bestaan wat die finansiële oorlewing van landbouprodsente en voedselsekerheid kan verseker,  asook 'n bydrae tot ekonomiese groei kan lewer, maar wat die regering sonder vergoeding wil onteien. Sulke nuwe landbouprojekte sal nie ontwikkel kan word deur klein bestaansboere in armoede te dompel wat permanent van die regering afhanklik sal raak vir hulle finansiële oorlewing nie.

Die “konsensus” wat bereik is “dat die regering nie ’n hindernis moet wees in die weg van vooruitgang nie” beteken presies niks as niemand wat aan die gesprekke deelgeneem het verstaan dat die vernietigende ideologie van die regering nog  altyd die enkele grootste hindernis is nie. Presies net so min soos met die “konsensus” wat bereik is “dat ons kragte moet saamsnoer om van die grond af op elke lewensterrein saam te werk vir ’n beter toekoms” nie.

 Die voormalige president, Thabo Mbeki, het na 1994 die weg met sy plan vir "Growth, Employment, and Redistribution" (GEAR) gebaan vir die volle implementering van die ANC se sosialistiese en kommunistiese ideologie waarop al die daaropvolgende ses “radikale ekonomiese transformasie-, rekonstruksie- en herstelplanne” baseer en implementeer was.

Al die planne was totaal onsuksesvol om ekonomiese groei te skep en kon slegs daarin slaag om die land in ‘n mislukte en bankrotstaat te dompel. Die implementering van verdere sogenaamde strukturele hervormings sou die ekonomie net verder vernietig het.

Presies dieselfde geld vir die jongste “Economic Reconstruction and Recovery Plan” van president Cyril Ramapshosa en sy sosiale vennote wat die vernietiging van die ekonomie verder sal voortsit.

As nie een van die partye, net soos die regering, nie verstaan dat slegs die terugkeer na ‘n kapitalistiese ekonomiese stelsel, die belangrikste landsprioriteit wat daar kan wees, ‘n totale verskil sal maak om die ekonomie te red en die land weer op te bou nie sal niks deur die gesprekke realiseer nie.

“Erkenning, ruimte en wedersydse respek om enige uitdaging gemeenskaplik deur verskillende bevolkingsgroepe aan te pak,” asook die “vertroue en samewerking om ’n beter toekoms te bou waarna almal in die land streef,” is nodig, maar sal nie die regering laat afsien van sy ekonomiese vernietigingswerk wat oor dekades plaasgevind het en nog minder enige ekonomiese groei kan skep nie.  

Hierdie ekonomiese vernietiging kan baie duidelike gemeet word aan die groeiende gaping tussen die inkomste en uitgawes van die regering wat direk verantwoordelik is vir sy steeds stygende begrotingstekorte en staatskuld, groter armoede, werkloosheid en onstuitbare korrupsie waardeur die ANC-elite hulle eerder steeds self verryk as om die toenemende armoede, werkloosheid, hongersnood en menselyding daadwerklik aan te spreek.

“Die enigste proses hoe die ekonomie gered en die land weer opgebou kan word is slegs deur (1) die afskaffing van die regering  se sosialistiese ideologie wat deur die leerstellings van kommunisme op die ekonomie en die land afgedwing word, soos die totale ingryping en regulering van die ekonomie wat dit reeds onomkeerbaar vernietig het, (2) die herverdeling van al die bates en welvaart van die land te stop, (3) die rol van die regering in die ekonomie drasties te verminder tot die daarstelling van 'n politieke en ekonomiese omgewing wat bevorderlik sal wees vir skepping van ekonomiese groei deur die private sektor, (4) korrupsie stop te sit  (5) 'n totale terugkeer te maak na 'n kapitalistiese ekonomiese stelsel wat die enigste stelsel is wat ekonomiese groei vanaf die vraag- en aanbodkant van die ekonomie kan skep, soos elke kwartaal deur Statistiek SA bewys word, wat deur die winsmotief gedryf word, (6) toelaat dat pryse hul uiters belangrike funksie in die ekonomie kan vervul deur altyd die vraag en aanbod weer na 'n markewewig terug te bring, en (7) die eiendomsreg van almal te waarborg en te beskerming.”

 “Daar bestaan geen ander manier nie en die tyd vir sosialisme is lankal verby,” aldus Brink.


Rosch