AANSPRAKE OOR MONÊTERE BELEID ONGEGROND - Suid Afrika

Star InactiveStar InactiveStar InactiveStar InactiveStar Inactive
 

Fanie Brink, Onafhanklike Landbou-ekonoom

“Die Reserwebank gaan steeds voort om almal te mislei deur sy uitsprake dat sy monetêre beleid die inflasiekoers in toom kan hou, die wisselkoers kan beskerm en ekonomiese groei kan stimuleer, waarvoor daar absoluut geen bewyse bestaan nie en wat in werklikheid die enkele grootste dwaling in die totale ekonomiese wetenskap is,” sê Fanie Brink, ‘n onafhanklike landbou-ekonoom.

Brink het verwys na die artikel “Reserwebank: Ons het vinnig op pandemie gereageer,” wat op die webblad van Netwerk24 vandag verskyn het waarin die president van die Reserwebank, Lesetja Kganyago, weereens sy onkunde oor ekonomiese beginsels ontbloot deur te beweer dat die Bank “het vinnig en beslissend opgetree om die invloed van die koronaviruspandemie op die land se ekonomie te help teenwerk” en dat “ons die spreekwoordelike petrol getrap het om die ekonomie aan die gang te kry deur die rentekoers te verlaag.”

"Daar bestaan eenvoudig geen waarheid in hierdie uitspraake nie omdat die invloed van rentekoersveranderings op ekonomiese groei weglaatbaar klein is en dit suiwer 'n bygeloof is sonder enige bewyse wat dit kan ondersteun nie!"

Kganyago het ook gesê dat daar "...was nie fiskale ruimte om die ekonomie te help nie, so ons moes die monetêre ruimte gebruik wat ons wel gehad het om die ekonomie te ondersteun” wat totaal onwaar is omdat die regering miljarde Rand in die ekonomie, tesame met ‘n lening van die Internasionale Monetêre Fonds, hoofsaaklik aan die vraagkant, maar ook aan die aanbodkant van die ekonomie, ingepomp het om die ernstige gevolge van die pandemie teen te werk.

Daar kan niks verder van die waarheid verwyder wees as die verdere aansprake wat Kganyago maak deur te sê dat dit “egter in gedagte gehou moet word dat die invloed van laer rentekoerse op ekonomiese groei gewoonlik eers 12 tot 18 maande later gesien kan word” en “namate die ekonomie weer aan die gang kom, sal die laer rentekoerse waarskynlik begin om groei te ondersteun.”

"Hierdie stellings is ook totaal verkeerd en onwaar, terwyl daar ook geen bewyse daarvoor bestaan nie! 

In ‘n onlangse uitspraak het Kganyago die uitspraak gemaak dat die Bank “…vir homself ruimte geskep het deur die verlagings in sy uitleenkoers wat die inflasiekoers verlaag het wat nog verdere ruimte geskep het vir die Bank om sy rentekoers ook verder te verlaag. Die beleid van die Bank was nog altyd dat die Bank rentekoerse verhoog om die inflasiekoers te verlaag, terwyl die laer inflasiekoers suiwer deur die baie lae vraag in die ekonomie veroorsaak is as gevolg van die pandemie! 

“Die feit is dat die Bank se rentekoers nog altyd net die inflasiekoers gevolg het en nie bepaal het nie.”

Die Bank glo vas dat die veranderings in rentekoerse ‘n wesentlike invloed op privaat verbruiksbesteding kan uitoefen en daarom ook op die inflasiekoers, terwyl die feite bewys dat die rentekoste wat verbruikers betaal slegs 1,03% van hulle totale besteding aan die vraagkant van die ekonomie beloop.

 Rentekoste kom nie eers voor op die lys van items waarop verbruikers hulle geld spandeer wat Statistiek SA saamstel om die veranderings in die verbruikersprysindeks te bereken nie. Eenvoudige statistiese ontledings het ook bewys dat die veranderings in rentekoerse geensins die veranderings in die inflasie- en die wisselkoers, asook ekonomiese, kan verklaar nie!.

Hierdie uitsprake deur Kganyago druis in teen sy vorige dwaling oor basiese ekonomiese beginsels waarvolgens hy gesê het "...die Bank kan nie alleen ekonomiese groei stimuleer deur rentekoerse verder te verlaag nie.”

Brink sê dat die Reserwebank deur hierdie uitsprake in werklikheid die werking van die markkragte van vraag en aanbod totaal ontken en ignoreer wat die mees basiese beginsel in ekonomie is.

Die inflasiekoers word in werklikheid deur al die plaaslike en internasionale ekonomiese en politieke faktore wat ‘n invloed op die vraag en aanbod van goedere en dienste uitoefen bepaal, asook die waarde van die geldeenheid, respektiewelik. Ekonomiese groei word van die vraag- en aanbodkant van die ekonomie geskep, soos elke kwartaal deur Statistiek SA bewys word, wat deur die winsmotief gedryf word en wat ook tot ‘n aansienlik mate deur die internasionale markkragte beïnvloed word.

Die sentrale banke en die meeste ekonome in die wêreld sal klaarblyklik nooit afsien van hulle totale dwaling oor monetêre beleid nie, maar die tyd het aangebreek dat hulle uitgedaag moet word om bewyse vir hulle aansprake te lewer wat egter sonder enige twyfel nie bestaan nie,” sê Brink.