NOP IS STEEDS VERNIETIGEND EN NIE VEROUDERD- Suid Afrika

Star InactiveStar InactiveStar InactiveStar InactiveStar Inactive
 

Die jongste uitsprake oor die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) van die ANC-regering wat suiwer op sy vernietigende ideologie van sosialisme baseer is en reeds na 1994 implementeer is, is steeds vernietigend en nie verouderd nie," sê Fanie Brink, 'n onafhanklike landbou-ekonoom. 

'n Beleid wat deur die leerstellinge van kommunisme op die land afgedwing word soos die totale inmenging en beheer van die ekonomie, asook die gelyke verdeling van die land se rykdom, welvaart en potensiële ekonomiese groei onder almal in die land.

Hy het verwys na die artikel “NOP se visie vir SA verouderd" wat die afgelope naweek in die Rapport verskyn het waarin dr Jakkie Cilliers, hoof van die Instituut vir Sekerheidstudies en professor Miriam Altman van die Universiteit van Johannesburg, wat ook ‘n kommissaris van die Nasionale Beplanningskomitee (NBK) van die regering is, baie aanvegbare uitsprake gemaak het. 

"Die tyd het lankal aangebreek om die feite en realiteite van die ANC se beleidsmislukkings reguit in die oë te kyk!"

Die NOP, wat net soos die voorafgaande vier “radikale ekonomiese transfomasieplanne” op die oorspronklike beleid van ANC baseer was wat voortgespruit het uit die organisasie se “Vryheidsmanifes,” het telkens klaaglik daarin misluk om die politieke doelstellings van die ANC-regering te verwesentlik. Die ANC het gevolglik herhaaldelik daarop aangedring dat NOP implementeer moet word sonder die insig om te besef dat die NOP niks anders as net 'n voortsetting van die onomkeerbare ekonomiese vernietiging was wat in werklikheid reeds lank voor 1994 begin het en nog minder verstaan dat al die opeenvolgende planne wat ook suiwer op sosialisme baseer was presies dieselfde vernietigende gevolge as die vorige planne sou hê nie.

Die eerste vier planne wat voor die NOP ingestel was, was die volgende: "Reconstruction and Development Programme (RDP) in 1994; Growth, Employment and Redistribution (GEAR) in 1996; Accelerated and Shared Growth Initiative – South Africa (ASGISA) in 2005; New Growth Path (NGP) in 2010;" terwyl dit deur die "Economic transformation, inclusive growth and competitiveness: A contribution towards a growth agenda for the South African economy" van die Nasionale Tesourie in 2019 en die jongste "Economic Reconstruction and Recovery Plan (ERRP)" van die regering en sy "sosiale vennote" in 2020 opgevolg is. Waaronder, "Business Unity South Africa (BUSA), Business Leadership SA (BLSA) en Business for South Africa (B4SA)" wat die ANC-regering se beleid ten volle ondersteun en waarby die georganiseerde landbou (Agri SA) en die georganiseerde landboubesighede (Agbiz) ook betrokke is.

Die ANC het reeds lank voor 1994 die grootste beleidsfout in sy bestaan gemaak toe hy 'n keuse moes uitoefen tussen "radikale ekonomiese transformasie" as die basis van sy toekomstige beleid of 'n beleid "om die verdienste van maatskappye te laat groei" wat die enigste keuse sou gewees het hoe ekonomiese groei steeds vandag in die meeste lande in die wêreld geskep word. Die laasgenoemde keuse sou 'n dramatiese ekonomiese verskil vir Suid-Afrika gemaak het in plaas van die keuse wat tot die onomkeerbare venietiging van die ekonomie aanleding gegee het wat die land vandag ondervind. Die keuse wat die ANC gemaak het was ook op 'n baie roerende manier deur die SA Kommunistiese Party ondersteun. 

Die feit dat die NBK in sy jongste verslag nou 'n "koersaanpassing" voorgestel het is net 'n duidelike bewys dat die NOP nie die drie grootste politieke doelwitte van "minder armoede, meer werksgeleenthede en groter gelykheid" op hierdie manier kon oplos omdat dit nie sonder ekonomiese groei enigsins verwesentlik kon word nie. Die aanbevelings van die verslag waardeur die "ontwikkeling van mense (onderwys en opvoeding) en die versterking van die land se instansies (staatsinstellings en -ondernemings) as die twee belangrikste ingrypings uitgewys word om Suid-Afrika terug te plaas op ’n groeikoers" sal presies dieselfde wees as om twee lugballon in die lug op te stuur wat in die niet sal verdwyn. Die NPC het hierdie "koeraanpassing" voorgestel omdat hy nou eers stadig maar seker begin besef dat die NOP net soos al die vorige planne nie die oorspronlike verwagtinge eers naastenby kan behaal nie, terwyl die opdatering daarvan geen verskil aan die verdere vernietiging van die ekonomie sal maak nie.

Terwyl die "teiken van volle indiensneming" vir Suid-Afrika onhaalbaar is en slegs deur ekonomiese groei, indien enigsins, bereik kan word. Juis omdat "indiensneming kumulatief” is en bepaal word wat die vorige jare bereik is, maar wat definitief nie op Suid-Afrika van toepassing is nie waar verskeie kenners verwag dat die werkloosheidsyfer tot bokant 50% kan styg. Die NOP het "voorsien dat die amptelike werkloosheidsyfer teen 2030 net 6% wou wees, maar dit was reeds 24% in 2010 en 29% in 2019, terwyl dit in die derde kwartaal van 2020 tot 30,8% gestyg het.

Sommige ekonomiese kommentators het voorgestel dat daar spesifieke aanwysers ontwikkeling moet word waaraan die implementering van die NOP gemeet kan word, maar daar bestaan egter reeds meer as voldoende aanwysers daarvoor, soos die groeiende gaping tussen die inkomste en uitgawes van die regering wat onomkeerbaar is weens sy sosialistiese ideologie, steeds stygende begrotingstekorte en staatskuld, 'n mislukte staat en bankrot regering, groter armoede, werkloosheid en onstuitbare korrupsie waardeur die ANC-elite hulle eerder steeds self verryk as om die toenemende armoede, hongersnood en menselyding daadwerklik aan te spreek want hulle buitensporinge duur motors ry te lekker en hulle buitengewone weelderige huise bly te lekker.

Die inmenging van die regering sal ook nie ophou nie voordat die herverdeling van die land se rykdom, welvaart en vooruitgang nie eers finaal verdeel, gesteel en verteer is nie waarna ons almal gelyk sal wees by "ground zero" met net 'n totale verwoesting rondom ons! Die ekonomie het sy laaste asem ingetrek vir sy finale tree na die afgrond wat hy binne die volgende 2 tot 3 jaar sal gee.

Die geskiedenis het bewys dat dit juis die politieke stelsels, asook die ekonomiese ongeletterdheid en onbevoegdheid van verskeie politieke leiers in die wêreld was wat die ekonomieë van baie lande in die verlede vernietig. Soos Valdimir Lenin en sy opvolger Joseph Stalin met hulle suiwer marxistiese beleid wat Rusland se ekonomie totaal vernietig het, Adolf Hitler van Duitsland met sy beleid van wêreldoorheersing wat die tweede wêreldoorlog ontketen het en wat die ekonomieë van die meeste Europese lande vernietig het, die Japannese leiers wat die verkeerdste politieke beleidbesluit van hulle lewe geneem om by die Tweede Wêreldoorlog betrokke te raak deur die Amerikaanse vloot in Pearl Harbour aan te val waarvoor hulle die duurste moontlike prys betaal het. Soos ook al die diktators in Afrika soos Idi Amin van Uganda, Samora Machel van Mosambiek, Robert Mugabe van Zimbabwe, wat met hulle sosialisme, kommunisme en korrupsie dieselfde gedoen het, terwyl Hendrik Verwoerd met sy beleid van afsonderlike ontwikkeling en Jacob Zuma ook met sy sosialisme, kommunisme, totale korrupsie en staatskaping wat hy saam met die Gupthas die ekonomie van Suid-Afrika tot op sy knieë gedwing het en wat nou ongelukkig ook baie duidelik deur Cyril Ramaphosa voortgesit word!

Suid-Afrika is in die proses om sy status as ontwikkelende land te verloor en sal in die baie nabye toekoms afgegradeer word na 'n onderontwikkelde land met baie hoër armoede, werkloosheid, ongekende hongersnood en menslike lyding soos in baie ander Afrika-lande. Dit sal uiteindelik daarvoor verantwoordelik wees dat ongeveer 85% van die bevolking totaal afhanklik van die landboubedryf sal raak nadat al die ander bedrywe aan die aanbodkant en die privaat verbruiksbesteding, kapitaalvorming en uitvoere aan die vraagkant van die ekonomie totaal in duie gestort het.

"Die enigste oplossing vir byna al die baie ernstige vernietigende probleme met die ekonomie kan slegs opgelos word deur 'n totale terugkeer na 'n kapitalistiese ekonomiese stelsel wat ekonomiese groei kan skep vanuit die vraag- en aanbodkant van die ekonomie wat gedryf word deur die winsmotief wat die enigste skepper van ekonomiese groei is."

Amerika is reeds vir baie dekades lank die bastion van kapitalisme, maar ten spyte daarvan is die Internasionale Monetêre Fonds, net soos die kredietgraderingsagente, tydens elke besoek aan Suid-Afrika net besig om die verskeie ernstige probleme wat die land ondervind aan die ANC-regering uit te wys wat algemene kennis is sonder om aan te beveel hoe dit opgelos moet word. Die IMF is ook  klaarblylik heeltemal tevrede daarmee dat die ekonomie deur die regering se vernietigende ideologie van sosialisme en kommunisme vernietig word. China het 'n paar jaar gelede ook kapitalisme as sy ekonomiese stelsel aanvaar en het daarna met gemiddeld 10% per jaar gegroei. Die land moes egter weer sy ekonomie selfs afkoel deur alle nuwe infrastruktuurontwikkeling op te skort. China het tydens die lae ekonomiese groeisiklusse in die wêreld steeds met gemiddeld 6% per jaar gegroei en die verwagtinge is dat die land vanjaar met 9,5% sal groei en binne die volgende paar jare die grootste ekonomiese mag in die wêreld sal word. China het ook nie teruggedeins om onlangs 'n handelsoorlog oor invoertariewe teen Amerika te voer om die winsgewendheid van sy plaaslike nywerhede te beskerm nie. Japan het na die Tweede Wêreldoorlog sy land van die grond af opgebou wat grootliks te danke was aan die feit dat hy 'n kapitalistiese stelsel aanvaar het. Rusland het na die koms van Mikhail Gorbachev in die laat tagtigs met sy beleid van "ekonomiese openheid en vryheid" ook begin om die eerste tree op die pad na 'n kapitalistiese ekonomiese stelsel te stap en daarom is Rusland vandag, saam met China, die twee grootste handelsvennote van Amerika. 

"Die NOP is nie verouderd nie omdat die implementering daarvan baie duidelik nog in volle swang en steeds op koers is om die ekonomie binne die volgende 2 tot 3 jaar verder te vernietig en die finale aftelling het reeds begin," sê Brink.