Suid-Afrika is besig om al hoe verder na die periferie van relevansie in die internasionale politieke ekonomie te beweeg. Die wêreld kan ons nie vertrou nie: nie polities nie en toenemend ook nie wat die vereistes vir finansiële verantwoordbaarheid betref nie.
KORT ná die Russiese inval in Oekraïne praat ek by die Istanboel-universiteit in Türkiye met akademici in hulle departement van internasionale verhoudings. 'n Subspesie akademici van byna elke vasteland is teenwoordig en die Russiese professor het duidelik 'n interessanter greep op wêreldpolitiek as sy kollegas. Daar is altyd ruimte in 'n akademiese gesprek vir skoorsoek en ek merk terloops op dat indien kernwapens buite rekening gelaat word, dit Amerika min of meer drie maande sal neem om die Russiese weermag na Siberië te verban.
Dit was nog voordat ek en die wêreld bewus geword het van die argaïese beheer en bevelstrukture van Vladimir Putin se weermag. Die Rus merk droog op: “Yes, but will America be able to deal with the universal fear and hatred after that?” Sy argument was dat indien 'n land nie as 'n politieke en militêre mag vertrou word nie, alle ander internasionale verhoudings – handelsverhoudings en diplomatieke betrekkinge inkluis – terminaal verwond word.
Hy is reg, en die beste voorbeeld daarvan is Amerika en Brittanje wat vandag nog sukkel met die stigma van George Bush en Tony Blair se ongegronde motiverings vir die verwydering van die despoot Saddam Hussein. Die byna historiese wantroue jeens Amerikaanse intelligensie en die Withuis laat 'n rou letsel op hulle verhoudings met die meeste lande in die wêreld.
In 'n gesprek met kollegas die afgelope week maak ek die punt dat Suid-Afrika toenemend na die periferie van internasionale politiek beweeg. Die mees onlangse voorbeeld daarvan was tydens die inhuldiging van die president van Zimbabwe, Emmerson Mnangagwa. Van die 16 nasionale leiers van die Suid-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) het slegs drie presidente, onder wie Ramaphosa, dit bygewoon. Mosambiek se Filipe Nyusi en die Demokratiese Republiek van die Kongo se Felix Tshisekedi was die ander twee.
SA plaas seël op Zim se bankrot verkiesing
Ramaphosa het Suid-Afrika se nasionale seël op 'n bankrot verkiesing van 'n korrupte president geplaas. Die geweldige druk wat Afrika-leiers in Junie 2023 op Ramaphosa geplaas het om dit tydens hulle besoek aan Sint Petersburg aan die Russiese president duidelik te maak dat die kinders wat sy regime uit Oekraïne ontvoer het, moet terugkeer, is nog vars in die geheue van die Afrika-unie. Suid-Afrika en Afrika deel nie 'n stel beleide wat Rusland en die internasionale politieke ekonomie betref nie.
Die Ramaphosa-administrasie het die laaste paar jaar daarin geslaag om sowel Afrika as die Weste te vervreem. Nie net polities nie; ons nasionale fiskale bestuur maak internasionale organisasies soos die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) en die Finansiële Aksietaakmag (FATF) diep bekommerd. Sedert 24 Februarie 2023 is Suid-Afrika op die FATF se gryslys, saam met lande soos Jemen, Nigerië en Albanië. Die FATF is onseker oor Suid-Afrika se kapasiteit en gewilligheid om geldwassery en die befondsing van internasionale terrorisme te bekamp.
Dit is 'n mite dat nét jou politieke verhoudings vervreembaar is. Met monetêre en fiskale beleide wat Suid-Afrika se ekonomie eksistensieel bedreig, word ons al hoe minder vertrou om plaaslike en internasionale verskaffingskettings in stand te hou. Vra gerus vir Argentinië, wat nie hulle internasionale skuld wil betaal nie, en Türkiye, wat verseg om die logika van verhoogde rentekoerse te gebruik om inflasie te bekamp; dit kom teen 'n prys vir die vertroue in 'n finansiële jurisdiksie.
Incredible wealth destruction under Ramaphosa
Op 24 Februarie 2022, tot op die dag 'n jaar voordat Suid-Afrika na die FATF se gryslys verban is, het Cyril Ramaphosa besluit om ons land by 'n Russiese despoot te skaar en ons van ons grootste handelsvennote te vervreem. In Junie 2023 skryf vier invloedryke Amerikaanse senatore 'n gesamentlike brief waarin hulle 'n beroep op die VSA doen om Suid-Afrika die reg te ontneem om die 2023-forum van die Amerikaanse wet op groei en geleenthede in Afrika (Agoa) aan te bied. Dit kom ná verskeie dreigemente uit Washington dat Suid-Afrika ná 2025 uit die Agoa-ooreenkoms gelaat kan word. Ons internasionale beleid het ekonomiese gevolge. Joe Biden, 'n uitgesproke morele gesant vir die bevrydingstryd, het nog altyd gehoop om 'n verhouding met Ramaphosa te vestig, soortgelyk aan dit wat tussen Bill Clinton en Nelson Mandela bestaan het. Die hoop beskaam.
Internasionale irrelevantheid
Die mees benarde situasie waarin 'n prominente ekonomie op die Afrika-vasteland kan wees, is wanneer jou land se mening nie meer gevra word nie. In Mei 2023 word Ramaphosa, 'n gereelde gas by G7-berade, nie weer genooi nie. Dit nadat hy die voorafgaande vier jaar gereeld teenwoordig was op G7-vergaderings in Kanada, Frankryk, Brittanje en Duitsland. Ons departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco) het reeds mediahuise genooi om Ramaphosa te vergesel toe die boodskap kom. Internasionale vergaderings soos die G7, G20 en Brics verander selde die werkswyse van internasionale verhoudings en ooreenkomste, maar as jou mening nie meer gevra of geag word nie, is dit 'n aanduiding van jou politieke teenwoordigheid se relevansie in die algoritme van internasionale verhoudings.
Die onlangse Brics-beraad was allesbehalwe 'n politieke oorwinning vir Suid-Afrika en Cyril Ramaphosa. Die Suid-Afrikaanse president was die gasheer van die beraad, en dit is min of meer waar die voordele vir Mzansi geëindig het. Die geleentheid was eerder 'n politieke kragtoer deur die Chinese president, Xi Jinping, vir wie dit uiters belangrik was dat Brics meer lande inkorporeer, want 'n magsblok kan net bestaan indien daar genoeg lidlande is. Tot die frustrasie van Indië se premier, Narendra Modi, is die nuwe lidlande op grond van 'n wenslys van Xi tot Brics toegelaat.
Die Suid-Afrikaanse regering kon geen teorie ter verduideliking of regverdiging aanbied vir die kriteria vir toelating nie. Die geopolitieke kenner Peter Zeihan skryf dat indien 'n politieke teenvoeter vir die Westerse hegemonie die idee is, verteenwoordig die politieke ekonomieë wat nuut tot Brics toegelaat is die mees ondenkbare kombinasie van jurisdiksies. Die werklikheid is dat die Brics-lande deur 'n digte netwerk van politieke en ekonomiese teenstrydighede geteister word.
Brasilië voer uit na China, maar het geen noemenswaardige handelsbande met enige van die ander Brics-vennote nie. China en Indië se verhouding is kouer as kamertemperatuur, in so ’n mate dat Jinping besluit het dit is nie die moeite werd om die G20-beraad vandeesmaand in Indië by te woon nie. Argentinië probeer onverpoosd om aan hulle internasionale skuldverpligtinge te ontkom en wil eintlik net toegang tot Brics se ontwikkelingsbank verkry. Meer as 90% van die kapitaal in die Brics-ontwikkelingsbank kom van China.
Ethiopië se teenwoordigheid het geen waarde vir dié poging tot 'n internasionale magsblok nie. Dit is 'n hopelose politieke jurisdiksie met byna geen beleggingspotensiaal nie. Iran en Saoedi-Arabië se betrokkenheid by Brics het te doen met hulle internasionale veiligheidsbelange eerder as 'n politieke drif om 'n politieke teenvoeter vir die Amerikaanse hegemonie te wees.
Rusland en SA het net die ANC gemeen
Rusland en Suid-Afrika het net die ANC gemeen. Volgens die ekonoom Dawie Roodt van die Efficient-groep is die belangrikste rede vir Suid-Afrika se beperkte handelsverhoudinge met Rusland die feit dat al twee lande min of meer dieselfde uitvoerprodukte het. Soos Suid-Afrika is Rusland 'n grondstofuitvoerder. Die Russe het energie of dan olie wat vir ons van waarde kan wees, maar Suid-Afrika koop olie aan van lande wat toegankliker en nader is. Soos ons het Rusland nie 'n baie sterk vervaardigingsektor nie. Ons landbou het 'n kleinerige mark in Rusland gevind.
China, daarenteen, is 'n uitvoer-ekonomie en hulle stort die inhoud van hulle vervaardigingskettings in die brose ekonomieë van hul Brics-vennote, wat lei tot massiewe handelswanbalanse ten gunste van China. Met handel tussen die Amerikaanse en Mexikaanse waardekettings wat onlangs die eerste keer sedert 2003 die waarde van die Chinese handel met Amerika verbygesteek het, soek Xi dringend na markte om sy vervaardigingsketting lewend te hou.
Ramaphosa en Luthulihuis se idee dat Brics 'n alternatiewe geldeenheid tot die dollar kan ontwikkel, is eenvoudig komies. Dit sal Suid-Afrika net verder van ons huidige verwortelde belang in Westerse finansiële stelsels verwyder. Vertroue is van kardinale belang vir die universalisering van 'n geldeenheid, en Westerse finansiële stelsels, markte en geldeenhede is die enigste argitektuur wat met betroubare sekerheid geassosieer word.
Die amorfe filosofie van 'n nuwe internasionale wêreldorde het 'n fundamentele konsensus of kompromis nodig, iets wat tans nie bestaan nie en beslis ook nie binne Brics figureer nie. Ons minister van finansies, Enoch Godongwana, deel baie beslis nie Ramaphosa se geesdrif vir 'n Brics-geldeenheid nie. Daar is nie tans 'n plaasvervanger vir die vertroue wat internasionale finansiële instellings in die dollar het nie.
Charles de Gaulle het in 'n stadium mymerend opgemerk: “No nation has friends, only interests,” maar selfs gevestigde belange het vertroue nodig om langdurig te wees. Dit is dalk 'n lewensles wat Ramaphosa en Naledi Pandor ook ter harte kan neem. Suid-Afrika is besig om toenemend na die periferie van relevansie in die internasionale politieke ekonomie te beweeg. Met die meer geweegde verhouding van onverbondenheid wat Ramaphosa en sy kabinet sedert die besoek van Afrika-leiers aan Sint Petersburg ingeneem het, is daar die intuïtiewe verwagting dat Suid-Afrika se posisie in internasionale politiek herstel is.
Maar ons kan nie vertrou word nie: nie polities nie en toenemend ook nie wat die vereistes vir finansiële verantwoordbaarheid betref nie. Ons relevansie in die wêreld se finansiële stelsels kwyn en ons word toenemend van gevestigde demokrasieë geïsoleer. Die VSA, Brittanje en verskeie Europese ekonomieë sal Ramaphosa nie maklik weer vertrou nie en Afrika is duidelik ook uiters skepties jeens die Suid-Afrikaanse regering. By implikasie betaal Suid-Afrika die prys vir hierdie wantroue. Ons mening is nie werklik meer belangrik nie.
PIET CROUCAMP.